VICTORIA, deur Athol Fugard (vertaal uit Engels deur Idil Sheard)
Maan 1 Mar 2010, 09:49 0 Kommentaar Stuur Artikel Rapporteer Misbruik
Danie Botha
Daar het onlangs stemme opgegaan dat die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se Hertzogprys vir Drama ook aan ongepubliseerde dramas toegeken moet word, want daar verskyn so min in boekvorm. Uitgewers vra tereg hoeveel mense koop en lees tog nou dramas? Dié paar wat dit nodig het, koop een en dupliseer verder. Dalro en LitNet pak wel tekste in “spense”.
Maar tog is daar nog altyd dramas formeel gepubliseer: wanneer opvoerings daarvan “in die nuus was”, en – veral – as die teks ontleedbaar op skool is en daarom in groot getalle voorgeskryf gaan word.
Deesdae word studiegidse boonop in die boeke opgeneem, soos in hierdie netjiese uitgawe. (Alida Bothma se omslagillustrasie is baie aantreklik. Teksreëls word genommer vir vinnige naslaan, en die formaat is gerieflik vir vashou in ’n repetisielokaal of spellees in die klaskamer.)
Dit is ook opwindend dat Athol Fugard nou Afrikaans praat. ’n Mens wil amper sê: uiteindelik. Daar was nog altyd in sy Suid-Afrikaanse Engels ’n onderliggende Afrikaansheid. Nie minder nie as vyf van sy dramas is in vertaling beskikbaar by dié uitgewery: Lied Van Die Vallei, Met Kerslig Na Mekka, Booitjie En Die Oubaas, Master Harold ... En Die Boys, en dan hierdie eenbedryf.
Freddie (oorspronklik vertolk deur Wayne van Rooyen) is ’n jong misdadige bruin man. Hy wil graag opgang maak binne die bendes in die Kaap, weg van dié Karoo-dorpie.
Hy het ’n moeilike verhouding met sy bruin vriendin, die 16-jarige Vicky (Ameena Patel) wat tussen goed en kwaad rondgeslinger word. Aan die een kant die positiewe invloed van die Kerk, haar ma en dié se wit werkgewers, en aan die ander kant: drank- en dwelmmisbruik, leuenagtigheid en molestering deur haar dranksugtige pa.
Hulle breek in by die huis van haar oorlede ma se werkgewer, ’n belese, intellektuele bejaarde, die oudonderwyser, Lionel (Cobus Rossouw). Hy betrap hulle, maar hy word gevange gehou. Die spanning word geskep met uiterlike geweld en ook deur ironie en ambivalente gevoelens. Dit is veral in Lionel se gedagtes dat ons dié kort drama se diepgang vind.
Hy wil dat hulle werklik na mekaar moet luister sodat hulle mekaar kan vergewe. Dit gebeur egter nie. Want hy is lewensmoeg en sien nie kans om met al die probleme te worstel nie. Vergifnis is “veeleisend. Jy moet baie krag in jou hê, in jou gees … want jy gaan met jouself stry.” Niks maak meer vir hom saak nie, ook nie wat hulle hom daardie aand aandoen nie.
Hy word geskiet. Freddie vlug, maar Vicky bly by hom agter.
Kom dié vinnige ontknoping nie neer op ’n ontwyking van die volle konsekwensies nie? Is die dramatiese gegewe ten diepste ontgin? Jy verneem wel van Vicky en Lionel se verledes, jy sien die gewelddadigheid in die hede, raak verstandelik en emosioneel geprikkel deur Lionel se wyse gepraat, maar daar’s ’n gevoel van onvoltooidheid. Word iets wat beweer word ook genoeg en geskakeerd vergestalt?
Ek vermoed leerkragte sal die gids geïnspireerd en bruikbaar vind. Kyk net hoe duidelik word die leerders se ervaringswêreld betrek by die toneelstuk deur die vrae en opdragte.
Dit is beslis ’n relevante stuk vir jong SA.
’n Mens kom egter in opstand teen die gebrekkige teksversorging. Die enkel- aanhalingstekens van die Engels word behou sáám met die korrekte dubbelaanhalingstekens.
Inkonsekwent is ook die aanbring van hoofletters by die kursiewe spelaanduidings en van kommas by aanspreekvorme. Ek het slegs ses verdagte taalvorme raakgesien. Die belangrikste is “sinnelose” wat “sinloos” behoort te wees.
Tot dusver is eufemismes vir allerlei krutaal in skooluitgawes aangebring. Hoe gemaak met Freddie se woorde soos… Sensureer! Dis ’n ordentlike koerant dié!
MASKEW MILLER LONGMAN, KAAPSTAD. (SAGTEBAND, 56 BLADSYE.)
Danie Botha is ’n skrywer, redakteur en resensent.
Onderwerpe:
| [Sluit venster] |
Pos 'n antwoord |
|
|
Gebruikersprofiel
boekredaksie25
| Geslag: |
|
Stuur Boodskap | |
| Stad: | Not Selected | ![]() |
Voeg vriend by |
| Nasionaliteit: | Not Selected | ![]() |
Blok gebruiker |
Statistiek
Afrigator Rang
| Bladlese: | 54282 |
| Kommentaar: | 76 |
| Beoordeling: |
| Kry statistiek oor jou blog en sien jou rang op 24.com en in die hele SA. Kliek hier om te aktiveer. |
Skryf in vir die blog
Skryf in vir e-pos kennisgewings vanaf die blog
|
|
Skryf in vir RSS vanaf die blog |
Nooi uit
Jy het 65 intekenaar(s)
Kentekens
- Altesame 509 skryw...2010/09/02 10:17:33 nm
- Brieweblad: Ingrid...2010/09/01 03:30:31 nm
- EMMA EN NELLA deur...2010/08/29 08:08:07 nm
- THE WAR FOR SOUTH ...2010/08/29 08:05:56 nm
- DIE BEGUNSTIGDE de...2010/08/29 08:03:17 nm



Lewer kommentaar