VERSAMELDE BOESMANSTORIES 1, deur G.R. von Wielligh

Maan 1 Feb 2010, 09:38        0  Kommentaar     Stuur Artikel
Rapporteer Misbruik




Daniel Hugo
Ek het nooit gedink dat ’n boek wat 90 jaar gelede verskyn het ’n mens só kan boei nie. Die mites en ­legendes van die Boesman het die afgelope dekade of wat ongekende belangstelling by Suid-Afrikaanse skrywers en literatore gewek. Die mees onlangse voorbeeld daarvan is Wynand Coetzer se roman, ­Skerpioen.
Die onvermoeibare landmeter en volkekundige G.R. von Wielligh se Boesmanstories het tussen 1919 en 1921 in vier dele verskyn.
Versamelde Boesmanstories I ­bevat die eerste twee dele, naamlik “Mitologie en legendes” en “Dierestories en ander verhale”.
Die ander twee dele sal binnekort as Versamelde Boesman­stories II verskyn.
Dit is oeroue verhale dié wat kom uit ’n tyd toe die mens ­homself nog nie as ’n aparte en unieke wese ­beskou het nie. Toe die grens tussen mens en dier (egte diere én fabel­diere, soos die ­waterslang), mens en natuur­elemente (water, wind, vuur) en mens en kosmos (son, maan en sterre) nog oorskrybaar was. Die mense van die “ou geslag” kon maklik van vorm verander. Hulle kon ook met alles – ding, dier en plant – kommunikeer.
Die kosmiese samehang van ­dinge in hierdie verhale word in ­familieverwantskappe uitgedruk. Die Genesis-tydperk van die Boesmanwêreld word soos volg beskryf: “In die ou dae was daar net ’n skemering – net soos op ’n ­donker onweersdag. Dit was koud en die son, maan en sterre het toe nog nie verskyn nie. Ou ‘Ga (Nag) en sy ou vrou ‘Gagen (Duisternis) het in ’n klipspelonk gewoon. ­Hulle het nie seuns gehad nie, maar drie dogters”. Hierdie drie dogters was onderskeidelik ‘Kou (Berge), ‘Kaun (Vlaktes) en ‘Khwa (Waters).
Berge is met Wind (Windvoël) getroud en hulle dogter is Weerklank. Vlaktes is met Vuur ­(Danser) getroud en hulle dogter is Lugspieëling. Waters is met ­Reënbees getroud en hulle dogter is Waterslang. Die son is die kop van Danser Vuurman en die maan is die skoen van Hottentotsgot. (Hierdie godheid se vuil skoene sorg nogal vir heelwat vermaak.)
Die mens is saamgestel uit Waters, Vuur en Wind wat sy wispelturige geaardheid verklaar: “Soms reën Waters vir Vuur dood, of Vuur verbrand Waters, of Wind waai Waters droog en blaas Vuur dood”. Die Boesmans se mites en legendes is – soos in ander mitologieë – ontologiese verhale wat verklarings bied vir menslike, natuurlike en kosmiese verskynsels. En hierdie vertellings is wesenlik poëties van styl en struktuur, soos wat Eugène ­Marais so verbluffend geïllustreer het in sy Dwaalstories. Suiwer ­poëties is ook die Boesmangebede aan die son, maan en sterre wat Von Wielligh weergee.
Sy groot verdienste is dat hy die Boesmanmitologie tot ’n same­hangende, chronologiese eenheid georden het. Hy het die monde­linge oor­lewering gesuiwer van in­konsekwenthede, herhalings en teen­strydighede – want daar is ­so­veel weergawes as wat daar ­vertel­lers is. Hy gee wel erkenning aan ’n alternatiewe “skeppings­verhaal” in die hoofstuk “Die ­diere vra om kos en water”.
Anders as die studeerkamer­geleerdes ­Wilhelm en Dorothea Bleek het Von Wielligh die Boesmanvertellers in hul natuur­like storie-omgewing beleef, dit wil sê rondom ’n vuur met ’n ­waar- derende gehoor. Hy het selfs die riel saam met hulle gedans. Hierdie versamelbundel sluit dan ook af met die woorde van vier ­dieredanse: kameelperd, springbok, kwagga en toktokkie.
Naas die gepubliseerde en ­on­gepubliseerde navorsing van ­Wilhelm Bleek, Lucy Lloyd en ­Dorothea Bleek tel Von Wielligh se optekening van hierdie antieke ver­hale as een van die “oer­bronne”. Sy Boesmanstories is nooit herdruk nie. Die eerste ­teken van hernude belangstelling in Von Wielligh se tekste was ­Robert Schall se Duitse vertaling daarvan wat in 2005 uit­gegee is.
In sy kundige voorwoord noem Hennie Aucamp hierdie nuwe ­Afrikaanse uitgawe eweneens ’n “vertaling”, omdat die argaïese taalgebruik en vertelwyse vir die hedendaagse leser gemoderniseer is. Die uitgewersredakteur Kristèl Roets se aanpassings maak die teks heerlik leesbaar, terwyl die ou­wêreldse sfeer behoue bly in ­woorde en uitdrukkings soos “skimmeldag” (oggendskemering), “kaduks” (siek), “oorwakse uitdeel” (klappe uitdeel), “swareweerstene” (haelstene), “ ’n riel uitkerf” (’n riel dans), “my harsings raak gekrink” (ek word krank­sinnig), ensovoorts. Jammer genoeg word die woord ­“almaande” (vergelyk met “aldag”) hier as twee woorde geskryf, wat die betekenis drasties wysig. Die opskrif “Die boom wat al maande sterf” moet in moderne Afrikaans wees: “Die boom wat ­elke maand sterf”.
Von Wielligh het gehelp om ’n kosbare stuk SA kultuurerfenis te bewaar. Daarvoor sal ons hom en sy waag­moedige uitgewer, Protea Boekhuis, ewig dankbaar wees.
PROTEA BOEKHUIS, PRETORIA. ­(SAGTEBAND, 257 BLADSYE, ISBN 978-1-86919-288-4.)
Daniel Hugo is ’n digter en vryskut-taalpraktisyn.

Onderwerpe: 

Pos 
| Vorige Pos

Herlaai Kommentaar
Lewer kommentaar
Kliek hier om in te teken en kommentaar te lewer.
[Sluit venster]

Pos 'n antwoord

Gereedskap

Help!

Gebruikersprofiel

boekredaksie25

Geslag: Send Message Stuur Boodskap
Stad: Not Selected Add to Friends Voeg vriend by
Nasionaliteit: Not Selected Block Blok gebruiker

Statistiek

Afrigator Rang

Bladlese: 54276
Kommentaar: 76
Beoordeling:
Kry statistiek oor jou blog en sien jou rang op 24.com en in die hele SA. Kliek hier om te aktiveer.

Skryf in vir die blog

Skryf in vir e-pos kennisgewings vanaf die blog

Skryf in vir RSS vanaf die blog

Nooi uit

Jy het 65 intekenaar(s)

Kentekens

(0)

Blog-rol

Onlangs Opgedateer

Boekeblok boekredaksie25 Die Oop Kaa... Murray24 Oos-KaapBurger OK Burger
antonjjansen Anton J AussieBoer Kevin D Die Burger ... René Lötter

Argief

janfebmaraprmayjun
julaugsepoctnovdec
janfebmaraprmayjun
julaugsepoctnovdec
janfebmaraprmayjun
julaugsepoctnovdec