VERBEEL JOU DIS SOMER deur Abraham H. de Vries
Maan 23 Nov 2009, 09:43 0 Kommentaar Stuur Artikel Rapporteer MisbruikWillie Burger
In die kortverhaal “Ons dorp” uit De Vries se nuwe bundel, is die hoofkarakter ’n skrywer wat ’n lesing gee oor “die soort verhale wat ons streekverhale of kontreiverhale noem”. Tydens sy lesing dink hy: “Hy weet hoe verder hy vertel, hoe onduideliker raak die grens vir homself tussen storie en werklikheid, tussen hoop en geskiedenis, tussen die wêreld om hom en die wêreld in hom. Alle gevolgtrekkings is halwe waarhede wat berus op ’n keuse uit ’n miriade gegewens.”
Dit sou maklik wees om hierdie skrywer-karakter gelyk te stel aan De Vries. De Vries het immers bekendheid verwerf met sy Karoostories, sy verhale oor die plase en klein dorpe, die treine, die reisende sirkusse met hulle clowns, oor die verhoudings tussen plaasarbeiders en boere. Kortom: De Vries is die onbetwiste meester van die streekverhaal in Afrikaans.
Maar dit sou ’n fout wees om die skrywer en De Vries sonder meer gelyk te stel. Daarteen waarsku die aanhaling: Wanneer jy vertel, is die grens tussen storie en werklikheid en tussen die wêreld ín jou en die wêreld óm jou vaag.
Wanneer jy vertel, maak jy immers altyd ’n seleksie uit ’n oneindige aantal moontlikhede uit die wêreld om jou. En dan rangskik jy die uitgesoekte gegewens om ’n storie te maak, met ’n begin, middel en einde volgens die wêreld ín jou. Só ’n samehangende storie gee betekenis aan elke gebeurtenis. Hierdie uitsoek en rangskikking kom van binne die verteller en gee orde aan die wêreld buite hom. Dit is dus die verteller se waarheid, die storie se waarheid, nie díé waarheid nie.
In sy vorige bundel Tot Verhaal Kom, staan: “omdat ek in stories dink, soek iets in my steeds na samehang”. Stories gee samehang. Maar om vertellend tot verhaal te kom, om samehang te gee aan die ooraanbod van inligting, is deesdae bitter moeilik: ook in die kontrei, in die klein dorp, op Winkelplaas. Want “ons dorp”, daardie bekende ruimte van die gemoedelike kontreiverhaal, kry in hierdie bundel die betekenis van Marshall McLuhan se “global village”: “Ons aarde het ’n dorp geword,” sê die skrywer vir sy gehoor. Die multinasionale maatskappye en die inligtingstegnologie “dreig om die mens te verdwerg, erger: ontuis te maak in hierdie dorp.”
Voor die sinlose moorde in ons land (“Leë hande”), gesinsgeweld (“Storm”), voor magsug en hebsug en verraad (onder meer in “ ’n Gesiene boer vertel”), voor liefdeloosheid en selfregverdiging, staan die mens verdwaas en ontredder. Selfs in ’n liefdesverhaal is daar nie gemaklike troos nie; die liefde is “ ’n ongepostuurde ding vol skewighede en skaarstes”.
Die voordeel daarvan om te leef in ’n wêrelddorpie is dat ’n mens kan sien dat die stories van die klein dorp, van die eie straat, van kennisse, vriende en familielede se lotgevalle, dieselfde as verhale van reg oor die wêreld is.
Emosies soos “liefde, haat, jaloesie, vrees (…) woede, eensaamheid, verlatenheid, angs, hoop” is “die bron vir verhale uit ál die kontreie van ons dorp”, is die skrywer in “Ons dorp” se slotsom.
Dié besef troos egter nog nie. As almal oor die wêreld dieselfde skrik ervaar, maak dit nie my ontreddering beter nie. Die verhale is meer as plaaslike pogings tot singewing wat net naïewe, lokale vertellings sou wees. De Vries lê herhaaldelik bloot hoe uitgesoek en wat weggelaat is uit die vertellings. Hy wys hoe die plot uitgewerk is en sodoende rafel al die verhale as’t ware uit. Die verhale word nie sluitende stories wat sin gee nie. Ons begrip – deur middel van vertelling – word telkens geproblematiseer deur een vertelling in ’n groter verhaal in te bed.
Waar die kontreiverhaal dalk nog vroeër kon troos, word hierdie verhale telkens teen die agtergrond van die wêrelddorp onthutsend. Die eerste verhaal in die bundel se openingsparagraaf suggereer al dat geen sluitende storie aangebied kan word nie: “Die begin van die beloofde verhaal stuur ek nou vir jou. Hoe verder, dit weet ek nog nie.”
Hierdie onvermoë om te voltooi oorheers in die bundel. Ook die slotverhaal word in twee dele aangebied: “die storie” en “die geskiedenis”. In hierdie tweede deel word die mooi liefdesverhaal van die eerste deel gekontekstualiseer. Die klein dorpsvertelling word in die wêrelddorp geplaas.
Om oorhaastig te besluit hierdie bundel is nóg ’n tirade oor verval in die land of teen globaliserende kragte, sou ’n fout wees. Soos in Tot Verhaal Kom word nostalgie na die vorige bedeling afgewys. Ou murasies word nie bloot gerestoureer nie. Daar word opnuut gebou, omdat bou en aanleef en vertel al is wat ’n mens kan doen. Maar ’n mens kan net híér, in jou eie kontrei bou en liefhê en hoop en jou verbeel dit is somer.
De Vries keer die kontreivertelling op sy kop, plaas dit in die wêrelddorp. Sodoende lewer hy ’n vernuftige bydrae tot ons dink oor die spanning tussen die lokale en die globale. Die kompleksiteit van hierdie spanning blyk nie soseer uit die argumente nie, maar uit die belewenis van die stories wat juis só vertel word dat ons maniere van sinmaak bevraagteken word.
HUMAN & ROUSSEAU, KAAPSTAD. (SAGTEBAND, 111 BLADSYE, ISBN 978-0-7981-4921-1.)
Willie Burger is verbonde aan die departement Afrikaans van die UJ.
Onderwerpe:
| [Sluit venster] |
Pos 'n antwoord |
|
|
Gebruikersprofiel
boekredaksie25
| Geslag: |
|
Stuur Boodskap | |
| Stad: | Not Selected | ![]() |
Voeg vriend by |
| Nasionaliteit: | Not Selected | ![]() |
Blok gebruiker |
Statistiek
Afrigator Rang
| Bladlese: | 54291 |
| Kommentaar: | 76 |
| Beoordeling: |
| Kry statistiek oor jou blog en sien jou rang op 24.com en in die hele SA. Kliek hier om te aktiveer. |
Skryf in vir die blog
Skryf in vir e-pos kennisgewings vanaf die blog
|
|
Skryf in vir RSS vanaf die blog |
Nooi uit
Jy het 65 intekenaar(s)
Kentekens
- Altesame 509 skryw...2010/09/02 10:17:33 nm
- Brieweblad: Ingrid...2010/09/01 03:30:31 nm
- EMMA EN NELLA deur...2010/08/29 08:08:07 nm
- THE WAR FOR SOUTH ...2010/08/29 08:05:56 nm
- DIE BEGUNSTIGDE de...2010/08/29 08:03:17 nm



Lewer kommentaar