THE LAST RESORT – A MEMOIR OF ZIMBABWE, deur Douglas Rogers en BECOMING ZIMBABWE – A HISTORY FROM THE PRE-COLONIAL PERIOD TO 2008, saamgestel deur Brian Raftopoulos en Alois Mlambo (samestellers)
Son 7 Feb 2010, 21:49 0 Kommentaar Stuur Artikel Rapporteer MisbruikLiesl Louw
Twee nuwe boeke oor Zimbabwe is die laaste ruk uitgereik – die jongstes op ’n lang lys werke wat die situasie in hierdie land uit verskillende hoeke aanpak.
Hulle is op uiteenlopende markte gerig: die ligter, meer toeganklike verhaal van ’n afgetrede egpaar se stryd om oorlewing en ’n meer akademiese werk gerig op ingeligtes en met ’n duidelike politieke agenda.
Douglas Rogers se The Last Resort is ’n vertelling van sy ouers se ervaring in Zimbabwe wat maklik lees en op plekke selfs amusant is, te midde van die tragedie wat hom sedert 2000 hier afspeel.
Rogers se ouers, albei in hulle sestigs, het tot aftrede besluit om ’n plek vir rugsakreisigers, ’n goedkoop blyplek vir toeriste en ’n restaurant op ’n plaas net buite Mutare te begin.
Wonder bo wonder oorleef die Rogers-egpaar die aanslag van president Robert Mugabe en sy Zanu-PF teen wit boere, terwyl hul bure en vriende met geweld uitgedryf word.
Die skrywer, ’n joernalis, woon in New York en kommunikeer met sy ouers per e-pos en telefoon – as daar krag is en die lyne nie afgesny is nie.
Hy besoek sy ouers al hoe meer dikwels en besluit dan om hul verhaal in die onstuimige jare van plaasbesettings, die stigting van die Beweging vir Demokratiese Verandering (MDC), armoede en ellende, hiper-inflasie en kosskaarste te boekstaaf.
Drifters, die Rogers se hotel en restaurant, ondergaan in dié tyd ’n metamorfose van ’n gewilde uithangplek vir boere en toeriste en word stelselmatig ’n kuierplek vir die Zimbabwiese elite en hul meisies van die nag. Die paar kothuise op die plaas word daarteenoor ’n toevlug vir afgesette boere en opposisie-politici.
Rogers vertel dié verhaal van noodgedwonge “aanpassing” in Zimbabwe met sukses. Dis een van daardie boeke wat ’n mens moeilik neersit. Hoe lank gaan die Rogerse nog uithou? vra ’n mens jou af met elke omblaai.
Die skrywer se selfkritiek is ook verfrissend. “Ek moet erken dat ek te bang was om oor die verkiesings te skryf,” sê hy prontuit. Die politiek is nie sy sterk punt nie. Dit is ook goed dat hy op die wel en wee van sy ouers fokus, eerder as die politieke situasie in Zimbabwe. Hy het duidelik nie die vermoë nie.
Tog maak dit die boek minder aangrypend en boeiend as byvoorbeeld Peter Godwin se Mukiwa en When A Crocodile Eats The Sun. Albei skrywers is joernaliste en woon in Amerika: die Amerikaanse meisie, die babas en die gemaklike lewe in New York word telkens as kontras vir die situasie in Zimbabwe ingebring.
Tog is daar by Rogers nie daardie swaarmoedige worsteling met wit wees in Afrika en tob oor sy kinderdae nie. Soveel memoires van grootword in Zimbabwe en elders in Afrika het al verskyn dat dit vervelig raak.
The Last Resort is beslis die moeite werd om te lees en dit gee ’n interessante blik van die resente geskiedenis – tot met die vorming van die huidige eenheidsregering.
Rogers ondersoek ook teen die einde van die boek die byna ongelooflike verhaal van die resente diamantstormloop by Marange, 100?km van Mutare en vertel hoedat die dorp se jongmense oornag ryk geword het, natuurlik totdat Mugabe se soldate hulle bloedig verdryf het.
Churchill het gesê die geskiedenis word deur oorwinnaars geskryf. As dit waar is, gee Becoming Zimbabwe, wat deur Brian Raftopoulos en Alois Mlambo saamgestel is, ’n mens ’n interessante blik op wat tans in Zimbabwe aan die gang is.
Het die opposisie teen president Robert Mugabe se Zanu-PF as t’ware nou die oorhand gekry? Of is dit net dat die denkende intellektuele in Zimbabwe noodwendig krities en in die opposisie is? Het hulle die boek saamgestel wetend daar sal uitgewers en lesers in Suid-Afrika en elders wees wat dit sal opraap? Of het die pendulum werklik in Zimbabwe geswaai?
Raftopolous, ’n bekende oppo- sisie-aktivis en MDC-raadgewer, en Mlambo, professor in geskiedenis aan die Universiteit van Pretoria, het die bydraes versigtig gekies. Die meeste van hulle is akademies van aard en ’n mens moet kophou deur die geskiedenis van die pre-koloniale era tot die Zimbabwe vandag.
Tog, die blote feit dat foto’s van die MDC-leier Morgan Tsvangirai nadat hy deur die polisie in Maart 2007 aangerand is, sowel as dié van die omstrede Operasie Murambatsvina in die boek verskyn, is reeds ’n teken dat dit ’n nuwe beeld van die geskiedenis wil vertoon.
Meer subtiel is die bevraagtekening van die oppermag van die Shona as die werklike inwoners van Zimbabwe. Etniese konflik tussen Shona en Ndebele was nog altyd die agtergrond van Zimbabwe se politieke stryd.
Deel van die huidige ooreenkoms in Zimbabwe is die skryf van ’n nuwe, inklusiewe grondwet. Die hersien van die geskiedenis is deel van dié proses.
’n Mens wonder hoe lank dit gaan wees voordat dié boek deur leerlinge in Zimbabwe op die skoolbanke gelees gaan word.
THE LAST RESORT: JONATHAN BALL, KAAPSTAD. (SAGTEBAND, 312 BLADSYE, ISBN 978-1-86842-362-0.)
BECOMING ZIMBABWE: JACANA MEDIA, JOHANNESBURG. (SAGTEBAND, 290 BLADSYE, ISBN 978-1-77009-763-6.)
Liesl Louw is die redakteur van die Instituut vir Sekerheidstudie se tydskrif The African.org.
Onderwerpe:
| [Sluit venster] |
Pos 'n antwoord |
|
|
Gebruikersprofiel
boekredaksie25
| Geslag: |
|
Stuur Boodskap | |
| Stad: | Not Selected | ![]() |
Voeg vriend by |
| Nasionaliteit: | Not Selected | ![]() |
Blok gebruiker |
Statistiek
Afrigator Rang
| Bladlese: | 54285 |
| Kommentaar: | 76 |
| Beoordeling: |
| Kry statistiek oor jou blog en sien jou rang op 24.com en in die hele SA. Kliek hier om te aktiveer. |
Skryf in vir die blog
Skryf in vir e-pos kennisgewings vanaf die blog
|
|
Skryf in vir RSS vanaf die blog |
Nooi uit
Jy het 65 intekenaar(s)
Kentekens
- Altesame 509 skryw...2010/09/02 10:17:33 nm
- Brieweblad: Ingrid...2010/09/01 03:30:31 nm
- EMMA EN NELLA deur...2010/08/29 08:08:07 nm
- THE WAR FOR SOUTH ...2010/08/29 08:05:56 nm
- DIE BEGUNSTIGDE de...2010/08/29 08:03:17 nm



Lewer kommentaar