THE DIALECTICAL TRADITION IN SOUTH AFRICA, deur Andrew Nash
Maan 15 Feb 2010, 09:31 0 Kommentaar Stuur Artikel Rapporteer Misbruik
Anton van Niekerk
Hierdie boek, nagevors oor ’n tydperk van bykans 20 jaar, is die lewenswerk van Andrew Nash, dosent in politieke denke aan die Universiteit van Kaapstad.
Dit bied ’n omvangryke, dog ook indringende ontleding van die “dialektiese tradisie” in Suid-Afrika. Die begrip “dialektiek” beteken “ontwikkeling deur teenstelling”. Dit verwys na ’n denkproses of -metode wat in die geskiedenis van die filosofie sedert die optrede van Sokrates voorkom, en wat na waarheid en wysheid soek in die ontginning van teenoorstaande moontlikhede.
Vir Nash verwys dit ook na ’n soort denke wat sigself nie slegs besig hou met intellektuele konstruksies en insigte nie, maar wat op die een of ander manier vir die menslike lewenspraktyk ter sake is. Dit is die soort denke wat nie slegs daarin kan berus om die wêreld te probeer verstaan nie, maar wat altyd ook daartoe wil deurdruk om die wêreld te probeer verander.
Dialektiese denke – inderwaarheid filosofie as sodanig – begin vir Nash in die 19de eeu in Suid-Afrika, en grootliks vanweë die sogenaamde “liberale stryd” in die NG Kerk. Kernmomente in die ontwikkeling daarvan was die oprigting van die Kweekskool in Stellenbosch in 1859 (as direkte teenvoeter vir die liberale idees in die Kerk), die totstandkoming van ’n filosofiedepartement in Stellenbosch, die van die hand wys van ’n leerstoel in filosofie in Stellenbosch deur Tobie Müller in 1916, die uiteindelike op die spits dryf van die “liberale stryd” in die Du Plessis-saak van die dertigerjare, die aanstelling van JF Kirsten as professor in filosofie in 1942 en die sintese wat hy bedink in reaksie op die liberale stryd, die transformasie van die Stellenbosse dialektiese tradisie deur die driemanskap van James Ogelthorpe, Daantjie Oosthuizen en veral Johan Degenaar, asook ’n aantal verdere gebeure in die 20ste eeu.
Hierdie boek is egter alles behalwe blote geskiedskrywing; dit is ’n uiters noukeurige en gesofistikeerde ontleding van die filosofiese idees wat in al hierdie gebeure en ontwikkelinge die intellektuele raamwerk vir die denke en optredes van individue verskaf het.
’n Boeiende voorbeeld hiervan is Nash se diepgaande ontleding van die sintese wat JF Kirsten bewerkstellig het tussen die eise van moderniteit en Christelike geloof in die nadraai van die Du Plessis-saak. Onder invloed van Henri Bergson, oor wie se denke hy gepromoveer het, erken Kirsten dat wat ons weet van die wêreld, aan verandering en onstabiliteit onstuitbaar uitgelewer is. Die mens kan egter nie sinvol lewe as epistemologiese dinamiek die laaste woord spreek nie; ons het stabiliteit en geborgenheid nodig. Laasgenoemde vind hy dan in die Christelike geloof en ’n nasionale politieke identiteit.
Van hierdie sintese word slegs die epistemologiese been deur Degenaar, Ogelthorpe en Oosthuizen aanvaar. Reeds van hul studentejare af is hulle deur Sören Kierkegaard, vader van die eksistensialisme, aangegryp. Wat Degenaar veral by Kierkegaard leer, is dat onrus, angs, onstabiliteit en onvoltooidheid ook deel van ons antropologie kan wees.
Kierkegaard het immers gedink oor die mens as die paradoksale sintese van skynbaar onversoenbare teengesteldes soos liggaam en gees, eindigheid en oneindigheid. Dat ongeborgenheid en onvoltooidheid ook deel kan wees van die antropologie, en nie slegs van die epistemologie nie, beteken nie dat Kierkegaard (of ons) die geloof hoef prys te gee nie; dit beteken bloot dat ons in vryheid elkeen selfstandig keuses moet uitoefen, en nie kan bly vashou aan die uitgediende dogmas van die geïnstitueerde kerk nie. Vandaar Degenaar se breuk met die kerklike tradisie, sy boek oor die sterflikheid van die siel en sy botsing met die NG Kerkowerhede.
Breytenbach en Turner, anders as Degenaar, is intellektuele wat hartgrondig by die praktyk betrokke wou raak. Die prys daarvoor was baie hoog: Turner is deur die veiligheidspolisie vermoor, en Breytenbach is deur sy eie kamerade verraai en het sewe jaar in die tronk deurgebring. Nash het hoë agting vir Breytenbach se deurlopend anti-outoritêre denke, maar kom tot die gevolgtrekking dat Breytenbach so konsistent téén als is dat dit waarvóór hy is, nooit duidelik uit die verf kon kom nie.
Nash se oorheersende kritiek op sowel die SAKP as die “nuwe politiek van Afrikaans”, is die fundamentele aanname dat die “legacy of apartheid can be overcome on the basis of capitalism”. Die kultuurpolitiek rondom Afrikaans lyk op die oog af na ’n verdere ontwikkeling in die dialektiese tradisie, maar Nash is skepties daaroor omdat dit weinig sensitiwiteit toon vir klasse-ongelykhede wat, vir hom, steeds Suid-Afrika se belangrikste probleem is.
Die boek behoort standaardleeswerk te wees vir enigeen wat iets te wete wil kom van wat filosofie in die beste sin van die woord, dit is filosofie as dialektiek, in Suid-Afrika se geskiedenis kon bereik, maar ook waar dit gefaal het, en hoekom. Dit is navorsing van die hoogste gehalte, en nogtans geskryf in ’n eenvoudige, meesleurende trant wat ’n mens laat sukkel om die boek neer te sit. In Suid-Afrika se dialektiese tradisie, is Nash se werk ’n onbetwisbare hoogtepunt.
ROUTLEDGE, NEW YORK EN LONDEN. (SAGTEBAND, 247 BLADSYE, ISBN 978-0-415-97530-8.)
Anton van Niekerk is die voorsitter van die filosofiedepartement van die Universiteit Stellenbosch.
Onderwerpe:
| [Sluit venster] |
Pos 'n antwoord |
|
|
Gebruikersprofiel
boekredaksie25
| Geslag: |
|
Stuur Boodskap | |
| Stad: | Not Selected | ![]() |
Voeg vriend by |
| Nasionaliteit: | Not Selected | ![]() |
Blok gebruiker |
Statistiek
Afrigator Rang
| Bladlese: | 54280 |
| Kommentaar: | 76 |
| Beoordeling: |
| Kry statistiek oor jou blog en sien jou rang op 24.com en in die hele SA. Kliek hier om te aktiveer. |
Skryf in vir die blog
Skryf in vir e-pos kennisgewings vanaf die blog
|
|
Skryf in vir RSS vanaf die blog |
Nooi uit
Jy het 65 intekenaar(s)
Kentekens
- Altesame 509 skryw...2010/09/02 10:17:33 nm
- Brieweblad: Ingrid...2010/09/01 03:30:31 nm
- EMMA EN NELLA deur...2010/08/29 08:08:07 nm
- THE WAR FOR SOUTH ...2010/08/29 08:05:56 nm
- DIE BEGUNSTIGDE de...2010/08/29 08:03:17 nm



Lewer kommentaar