PRINSLOO VERSUS, deur Adriaan Meyer
Son 3 Jan 2010, 23:56 0 Kommentaar Stuur Artikel Rapporteer Misbruik
Gerrit Olivier
Dit is moeilik om Adriaan Meyer se Prinsloo Versus (lelik uitgegee, met te veel setfoute) te beoordeel sonder om die stuk op die verhoog te gesien het. Die impak van ’n opvoering sal onder meer bepaal word deur die mise-en-scène en die aksente van ’n regisseur.
Die opset is baie druk, met die aanwesigheid van Koos Prinsloo self in verskeie gedaantes, drie kritici, ’n aantal spelers in ’n verskeidenheid rolle en ’n dramaturg wat van tyd tot tyd ingryp of die protagonis konfronteer.
Die samehang van die onderdele lê in die toneelskrywer se oortuiging dat Prinsloo intertekstueel nog “lewe” en dat die kontroversiële aard van sy werk steeds uitdagings aan ons begrip en sedelike norme bied. Dit mag waar wees, maar Meyer klink erg pretensieus as hy Prinsloo in sy voorwoord ’n “ikoon” soos James Dean noem en ook na die stuk verwys as “?’n foto in rou: ’n postmoderne blik op ’n tragedie van Griekse proporsies”.
Hierdie uitgangspunte is sensasioneel en moeilik met mekaar te versoen. Die verwarring spreek ook uit die stuk self, wat aan die een kant ’n kollektiewe treurspel oor Prinsloo wil wees, aan die ander kant ’n psigodrama oor die gestorwe skrywer se konflik met vaderfigure en sy impak op kritiese lesers.
Meyer wil verder ook Prinsloo se verdediging van sy eie werk as “fiksie” en sy tegniek van “selektiewe ontbloting” aan die kaak stel. Volgens sy voorwoord word lesers deur dié tegnieke “doelbewus verlei” om die verhale “bloot” as outobiografies te beskou. Wie is tog hierdie veronderstelde “lesers”?
As “kritici” gebruik Meyer vreemd genoeg naas Riana Scheepers (’n vanselfsprekende keuse) ook Johann de Lange (wat in sy Vreemder as Fiksie van 1996 meer ’n kreatiewe respondent is) en Danie Botha (wie se reaksie op Prinsloo nie in die openbaar as “kritiek” verskyn het nie). Die aksent val op die meer strydvaardige aspek van Prinsloo se werk, en veral op sy persoonlike “verraad” van mense deur die gebruik van persoonlike besonderhede in sy tekste. As stramien hiervoor dien ’n seleksie van Prinsloo se verhale in ’n vernuftige netwerk van aanhalings daaruit en ook uit die “kritici”, met die “dramaturg” as manipuleerder op die verhoog. Ten spyte van die deurlopende tegnieke is die geheel baie fragmentaries en val Meyer ’n bietjie vas in die gesag van sy bronne.
Meyer is geboei deur Prinsloo se oorskryding van die grens tussen fiksie en werklikheid. Sy hantering van dié problematiek is soortgelyk aan dié van Scheepers, wat in haar Koos Prinsloo: Die Skrywer en sy Geskryfdes (1998) die outobiografiese element in Prinsloo se werk en allerlei identifikasies van verhaalfigure met mense in die werklikheid en met Prinsloo self op die voorgrond plaas. Ook hy sien die “flardes van skinderstories” in Prinsloo se werk eerder as die innoverende gebruik van sulke “stories” raak.
Boeiend en selfs dramaties is dit natuurlik wel, maar die belangrikste aspek van Prinsloo bly op die agtergrond: die vraag hoe “skandalige” besonderhede verwerk en binne die logika van die teks getransformeer word. Op Meyer se “openbare, persoonlike en artistieke slagvelde” bly die “artistieke” en Prinsloo se meesterlike beheersing van die kortverhaal in die slag.
Meyer wil met sy titel die vraag wie die opponent van Prinsloo Versus is, aan die leser of teaterganger oorlaat. Die groot en bestendige probleem waarmee Prinsloo deur al sy konfrontasies met individue en vaderfigure heen geworstel het, is in die eerste plek literêr van aard. ’n Stuk wat so intensief op sy transgressies fokus, mag sy bemoeienis met vormgewing – en die komplekse etiek wat daarmee saamhang – nie verwaarloos soos wat dit hier gebeur nie.
Die seksuele jaagtogte in Prinsloo is ook die soeke na ’n plek wat vry is van konvensionele magsverhoudings. Sy werk is gekompromitteer deur eie magspeletjies, maar op ’n bewuste en ironiese manier. Dit is uiteindelik Prinsloo se bewussyn van mag en sy geloof aan die woord wat nie net wraak neem nie, maar ook sal bevry – én die risiko’s wat hy ter wille hiervan geneem het – wat ’n mens moet probeer verstaan.
Meyer se gedurfde stuk bied ten spyte van sy kleurvolheid nie ’n interpretasie van die dinge wat van Prinsloo ’n skrywer in plaas van ’n woedende en teleurgesteldde kind gemaak het nie. Dit neem die groot lawaai rondom Prinsloo as uitgangspunt en voeg teleurstellend weinig daaraan toe.
PROTEA BOEKHUIS, PRETORIA. (SAGTEBAND, 143 BLADSYE, ISBN 978?1?86919?252?5.)
Gerrit Olivier is ’n literator van Wits.
Onderwerpe:
| [Sluit venster] |
Pos 'n antwoord |
|
|
Gebruikersprofiel
boekredaksie25
| Geslag: |
|
Stuur Boodskap | |
| Stad: | Not Selected | ![]() |
Voeg vriend by |
| Nasionaliteit: | Not Selected | ![]() |
Blok gebruiker |
Statistiek
Afrigator Rang
| Bladlese: | 54283 |
| Kommentaar: | 76 |
| Beoordeling: |
| Kry statistiek oor jou blog en sien jou rang op 24.com en in die hele SA. Kliek hier om te aktiveer. |
Skryf in vir die blog
Skryf in vir e-pos kennisgewings vanaf die blog
|
|
Skryf in vir RSS vanaf die blog |
Nooi uit
Jy het 65 intekenaar(s)
Kentekens
- Altesame 509 skryw...2010/09/02 10:17:33 nm
- Brieweblad: Ingrid...2010/09/01 03:30:31 nm
- EMMA EN NELLA deur...2010/08/29 08:08:07 nm
- THE WAR FOR SOUTH ...2010/08/29 08:05:56 nm
- DIE BEGUNSTIGDE de...2010/08/29 08:03:17 nm



Lewer kommentaar