KORTETJIES EN ’N LANGE, deur P.G. du Plessis

Maan 22 Feb 2010, 09:38        0  Kommentaar     Stuur Artikel
Rapporteer Misbruik



Wium van Zyl
Die titel van P.G. du ­Plessis se Kortetjies En ’n Lange verwys volgens die omslag na die belkodes op ou plaas­lyne. Dit wek vir my ­on­willekeurig die vraag: Vir wie is die lui? Sekerlik kan diegene wat sy Koöperasiestories geniet het hul ore spits. Maar op ’n plaaslyn luister nie net die op­geroepte nie! Bowendien bevat die bundel ook verhale van ’n heel ander aard.
Dit behels ’n samevoeging van twee vroeëre Du Plessis-bundels: Het Olifante Elmboë? (1987) en Neklis (1993). Volgens die ­omslag het die skrywer wel “aan party van die stories gepeuter”, veral om dit ’n “rêrige verteltrant” te gee. Twee nuwe verhale is ten slotte toegevoeg. In hul ­uiteen­lopendheid verteenwoordig laasgenoemde wel die aard van die orige stuk of 65.
Die eerste een, “Beroking”, volg die trant van vele Koöpe­rasie­stories. Dit sluit allemans­filo­sofieë in soos die volgende (na aanleiding van ­kakiebos): “Hoe onaangenamer en hoe meer nikswerd, hoe ­vroeër teel mens, dier en plant. Dis ’n wet van die ­natuur. Die aanteeldrang, lyk dit my, is ­altyd direk gekoppel aan on­bruikbaar­heid. Dis soos onkruid in die droogte: hulle skiet saad voor hulle behoorlik blare gemaak het.”
Die storie neem dan sy loop na die probleem van bye wat op ­on­gemaklike plekke nesmaak en die wonderraat van die byeboer Maans en sy daggarokende ­helper “ou ­Julius”. Laas­genoem­de het oor die jare só deurdrenk geraak van sy rokery dat hy selfs “dagga-essens” sweet! Sy metode is om al rokende op die weerstandige ­in­sekte af te stap en hulle buite weste te blaas. Wanneer die ver­teller dit self wil beproef, skraap die polisie hom met sy gerf on­wettige plante en beland hy voor die landdros Wiid (met sy in dié verband ironiese naam). Laas­genoemde strenge regsman dwing ver­volgens die verteller om sy verskoning só te illustreer dat dit sommer ook ’n byeprobleem by die landdros­woning uit die weg kan ruim.
Die uiteinde is egter dat alle regspraak tydelik in die war gestuur word en die betekenis van die term “bybedoelings” opnuut uitgebrei word. Dit is dus ’n ­tipiese streek­verhaal waarby die “gewone mens” met sy kwetsbare eiesoortigheid teen die tot onder­horig­heid dwingende oormag van buite te staan kom en dan desondanks deur ’n kwinkslag ’n skaterende ­oor­winning behaal.
Hierteenoor is “Ons mond” ’n verhaal van groot erns, ’n ver­telling oor “die eeu wat ons lot was om te bestryk”, die 20ste eeu.
Drie geslagte Afrikaners kom aan die woord. Die jonger “ek”-verteller ontdek geleidelik die wapenfeite van die familie, die manier waarop die gene voort­beweeg, maar ook die onmoontlike lang tyd wat die kollektiewe bewussyn ’n psigo­logiese wond kan laat bly bloei. Die oerbron is hier die oupa met sy ­uiterlike lit­tekens wat elkeen verbindbaar is met kwessies in sy verlede, veral die Anglo­-Boere- oorlog. Op ’n vroeë sta­dium noem hy teenoor sy klein­seun: “Oupa het klaar gehuil, my kind … ná onse oorlog”. Kort voor die einde vind die nou volwasse seun pas uit waaroor dit presies was en ook watter oënskynlik vergete lit­teken hy oor sy wang dra. Die ­belangrike kommentaar word tussendeur gegee deur die ver­teller se vader, hoofsaaklik aan die hand van (die ironies genoeg Engelse) woorde uit Tennyson se “Morte d’Arthur” en veral die verwysing daarin na ’n “grievous wound”. Die “ek” sien ten slotte in dat sy eie mond ’n kopie word van sy oupa s’n en ook dié se wond herhaal. Terselfdertyd besef hy dieselfde volk van gegriefde gewondes het in die afgelope eeu self weer ’n soortgelyke proses by andere aan die gang gesit wat ­lyding tot selfs op sy agterkleinkinders afgeroep het. Die verhaal bied dus nie slegs onthulling oor die verlede nie, maar ook ’n skrikbeeld oor hede en toekoms.
Die vroliker verhale is eintlik dié van ’n belangrike skrywer wat speel. Vergelyk maar die ­volgende karakterisering van die hopelose erns by die smart­kundige Sarah Crafford: “die Craffords is humorlose mense met pyngesiggies en knypsiele, en sy’t in erns ingetrou”. Of van die mooi hippie-meisie: “En as sy hoes, hou die vibrasie van die rok op twee puntjies nog ’n rukkie aan”… ’n Groot verskeidenheid lewensprobleme word aangesny soos interkulturele gesprekke (“Die dood se kleim”) en die ­verhouding met die Bose (“Dag-man van die duiwel”).
Vir diegene met ’n oop gemoed is daar veel te leer uit die vyf ­verhale oor die “wette van Mattewis”. “Re-in-kar-nasie” is weer ’n insekverhaal wat wyle Anton Koolhaas tot in sy snorhare jaloers sou ­gelaat het. Soms is daar egter wel ’n patroonmatigheid te sien, iets wat al in Koöperasie­stories voorkom, byvoorbeeld dat ’n vreemde stelling in die eerste opgewerp word om dan in die res van die teks te “behandel”.
Kortetjies En ’n Lange is nie ’n boek om in een sitting deur te lees nie, maar iets vir die bedkassie, ’n luitoon wat alle lesers graag die gehoorbuis sal laat lig.
TAFELBERG-UITGEWERS, KAAPSTAD. (SAGTEBAND, 286 BLADSYE, ISBN 978-0-624-04810-7.)
Wium van Zyl is verbonde aan die UWK se ­departement Afrikaans en ­Nederlands.

Onderwerpe: 

Pos 
| Vorige Pos

Herlaai Kommentaar
Lewer kommentaar
Kliek hier om in te teken en kommentaar te lewer.
[Sluit venster]

Pos 'n antwoord

Gereedskap

Help!

Gebruikersprofiel

boekredaksie25

Geslag: Send Message Stuur Boodskap
Stad: Not Selected Add to Friends Voeg vriend by
Nasionaliteit: Not Selected Block Blok gebruiker

Statistiek

Afrigator Rang

Bladlese: 54273
Kommentaar: 76
Beoordeling:
Kry statistiek oor jou blog en sien jou rang op 24.com en in die hele SA. Kliek hier om te aktiveer.

Skryf in vir die blog

Skryf in vir e-pos kennisgewings vanaf die blog

Skryf in vir RSS vanaf die blog

Nooi uit

Jy het 65 intekenaar(s)

Kentekens

(0)

Blog-rol

Onlangs Opgedateer

Boekeblok boekredaksie25 Die Oop Kaa... Murray24 Oos-KaapBurger OK Burger
antonjjansen Anton J AussieBoer Kevin D Die Burger ... René Lötter

Argief

janfebmaraprmayjun
julaugsepoctnovdec
janfebmaraprmayjun
julaugsepoctnovdec
janfebmaraprmayjun
julaugsepoctnovdec