KORTETJIES EN ’N LANGE, deur P.G. du Plessis
Maan 22 Feb 2010, 09:38 0 Kommentaar Stuur Artikel Rapporteer Misbruik
Wium van Zyl
Die titel van P.G. du Plessis se Kortetjies En ’n Lange verwys volgens die omslag na die belkodes op ou plaaslyne. Dit wek vir my onwillekeurig die vraag: Vir wie is die lui? Sekerlik kan diegene wat sy Koöperasiestories geniet het hul ore spits. Maar op ’n plaaslyn luister nie net die opgeroepte nie! Bowendien bevat die bundel ook verhale van ’n heel ander aard.
Dit behels ’n samevoeging van twee vroeëre Du Plessis-bundels: Het Olifante Elmboë? (1987) en Neklis (1993). Volgens die omslag het die skrywer wel “aan party van die stories gepeuter”, veral om dit ’n “rêrige verteltrant” te gee. Twee nuwe verhale is ten slotte toegevoeg. In hul uiteenlopendheid verteenwoordig laasgenoemde wel die aard van die orige stuk of 65.
Die eerste een, “Beroking”, volg die trant van vele Koöperasiestories. Dit sluit allemansfilosofieë in soos die volgende (na aanleiding van kakiebos): “Hoe onaangenamer en hoe meer nikswerd, hoe vroeër teel mens, dier en plant. Dis ’n wet van die natuur. Die aanteeldrang, lyk dit my, is altyd direk gekoppel aan onbruikbaarheid. Dis soos onkruid in die droogte: hulle skiet saad voor hulle behoorlik blare gemaak het.”
Die storie neem dan sy loop na die probleem van bye wat op ongemaklike plekke nesmaak en die wonderraat van die byeboer Maans en sy daggarokende helper “ou Julius”. Laasgenoemde het oor die jare só deurdrenk geraak van sy rokery dat hy selfs “dagga-essens” sweet! Sy metode is om al rokende op die weerstandige insekte af te stap en hulle buite weste te blaas. Wanneer die verteller dit self wil beproef, skraap die polisie hom met sy gerf onwettige plante en beland hy voor die landdros Wiid (met sy in dié verband ironiese naam). Laasgenoemde strenge regsman dwing vervolgens die verteller om sy verskoning só te illustreer dat dit sommer ook ’n byeprobleem by die landdroswoning uit die weg kan ruim.
Die uiteinde is egter dat alle regspraak tydelik in die war gestuur word en die betekenis van die term “bybedoelings” opnuut uitgebrei word. Dit is dus ’n tipiese streekverhaal waarby die “gewone mens” met sy kwetsbare eiesoortigheid teen die tot onderhorigheid dwingende oormag van buite te staan kom en dan desondanks deur ’n kwinkslag ’n skaterende oorwinning behaal.
Hierteenoor is “Ons mond” ’n verhaal van groot erns, ’n vertelling oor “die eeu wat ons lot was om te bestryk”, die 20ste eeu.
Drie geslagte Afrikaners kom aan die woord. Die jonger “ek”-verteller ontdek geleidelik die wapenfeite van die familie, die manier waarop die gene voortbeweeg, maar ook die onmoontlike lang tyd wat die kollektiewe bewussyn ’n psigologiese wond kan laat bly bloei. Die oerbron is hier die oupa met sy uiterlike littekens wat elkeen verbindbaar is met kwessies in sy verlede, veral die Anglo-Boere- oorlog. Op ’n vroeë stadium noem hy teenoor sy kleinseun: “Oupa het klaar gehuil, my kind … ná onse oorlog”. Kort voor die einde vind die nou volwasse seun pas uit waaroor dit presies was en ook watter oënskynlik vergete litteken hy oor sy wang dra. Die belangrike kommentaar word tussendeur gegee deur die verteller se vader, hoofsaaklik aan die hand van (die ironies genoeg Engelse) woorde uit Tennyson se “Morte d’Arthur” en veral die verwysing daarin na ’n “grievous wound”. Die “ek” sien ten slotte in dat sy eie mond ’n kopie word van sy oupa s’n en ook dié se wond herhaal. Terselfdertyd besef hy dieselfde volk van gegriefde gewondes het in die afgelope eeu self weer ’n soortgelyke proses by andere aan die gang gesit wat lyding tot selfs op sy agterkleinkinders afgeroep het. Die verhaal bied dus nie slegs onthulling oor die verlede nie, maar ook ’n skrikbeeld oor hede en toekoms.
Die vroliker verhale is eintlik dié van ’n belangrike skrywer wat speel. Vergelyk maar die volgende karakterisering van die hopelose erns by die smartkundige Sarah Crafford: “die Craffords is humorlose mense met pyngesiggies en knypsiele, en sy’t in erns ingetrou”. Of van die mooi hippie-meisie: “En as sy hoes, hou die vibrasie van die rok op twee puntjies nog ’n rukkie aan”… ’n Groot verskeidenheid lewensprobleme word aangesny soos interkulturele gesprekke (“Die dood se kleim”) en die verhouding met die Bose (“Dag-man van die duiwel”).
Vir diegene met ’n oop gemoed is daar veel te leer uit die vyf verhale oor die “wette van Mattewis”. “Re-in-kar-nasie” is weer ’n insekverhaal wat wyle Anton Koolhaas tot in sy snorhare jaloers sou gelaat het. Soms is daar egter wel ’n patroonmatigheid te sien, iets wat al in Koöperasiestories voorkom, byvoorbeeld dat ’n vreemde stelling in die eerste opgewerp word om dan in die res van die teks te “behandel”.
Kortetjies En ’n Lange is nie ’n boek om in een sitting deur te lees nie, maar iets vir die bedkassie, ’n luitoon wat alle lesers graag die gehoorbuis sal laat lig.
TAFELBERG-UITGEWERS, KAAPSTAD. (SAGTEBAND, 286 BLADSYE, ISBN 978-0-624-04810-7.)
Wium van Zyl is verbonde aan die UWK se departement Afrikaans en Nederlands.
Onderwerpe:
| [Sluit venster] |
Pos 'n antwoord |
|
|
Gebruikersprofiel
boekredaksie25
| Geslag: |
|
Stuur Boodskap | |
| Stad: | Not Selected | ![]() |
Voeg vriend by |
| Nasionaliteit: | Not Selected | ![]() |
Blok gebruiker |
Statistiek
Afrigator Rang
| Bladlese: | 54273 |
| Kommentaar: | 76 |
| Beoordeling: |
| Kry statistiek oor jou blog en sien jou rang op 24.com en in die hele SA. Kliek hier om te aktiveer. |
Skryf in vir die blog
Skryf in vir e-pos kennisgewings vanaf die blog
|
|
Skryf in vir RSS vanaf die blog |
Nooi uit
Jy het 65 intekenaar(s)
Kentekens
- Altesame 509 skryw...2010/09/02 10:17:33 nm
- Brieweblad: Ingrid...2010/09/01 03:30:31 nm
- EMMA EN NELLA deur...2010/08/29 08:08:07 nm
- THE WAR FOR SOUTH ...2010/08/29 08:05:56 nm
- DIE BEGUNSTIGDE de...2010/08/29 08:03:17 nm



Lewer kommentaar