IN DIE NIMMER-IMMER-BOS, deur Linda Rode en Fiona Moodie (illustrasies)

Son 7 Feb 2010, 21:48        0  Kommentaar     Stuur Artikel
Rapporteer Misbruik


Riana Scheepers
Die Bybel skryf in Spreuke oor ’n wonderlike vrou, die deugdelike Mevrou, in Spreuke 31. Hierdie vrou is voortreflik in alles wat haar kloeke hand vind om te doen: Sy is hardwerkend, regverdig, slim, energiek en vrygewig. As sy haar mond oopmaak, dan kom daar ­wyse woorde uit. Die Bybel sê dit nie, maar dié mevrou was ­seker nog ’n voortreflike kok en ­minnaar óók, en natuurlik was haar kinders nooit gruwelik nie. Kortom, sy was ’n supervrou.
In die Afrikaanse kinder­­litera­tuur het ons ook ’n vrou. Haar naam is Linda Rode. Slaan sy haar hand aan ’n teks, of dit nou in die rol van samesteller, redakteur óf ­skrywer is, dan kan die leser maar weet: die resultaat is ’n ­deeglike, slim, ener­gieke, vry­gewige, ­pragtige boek.
Haar nuutste, en sekerlik haar mees ambisieuse projek tot ­dusver, is die sprokiesbundel In die ­Nimmer-Immer-Bos. En dit kom op ’n tyd dat vele ma’s van kleuters vir my vra: Wáár is ’n moderne ­Afrikaanse sprokiesboek? Wel, hier is dit, moeders en oumas en ­alle bobbe­jaantjies, klap julle ­handjies en vier ’n groot, vet fees, want hier is jul heerlike, dik, ­groter as groot sprokiesboek! Dit is so ruim en wyd soos die aardbol, so ­opwindend en misterieus soos ’n donker woud, so leersaam soos ’n ensiklopedie, maar bowe-al so ­lekker soos ’n ­winkel vol swieties waaruit ’n kind kan kies wát hy of sy maar wil. (Boonop ­gesonde ­swieties, kan jy meer.)
Die sprokies wat in die ­bundel ­opgeneem is, is van oor die hele ­wêreld byeen­gebring. Die meeste ouer lesers wat hierdie boek vir hul kinders en klein­kinders gaan koop, ken die ­Europese ver­haleskat van ­sprokies, maar moet tog nie dink dat die broers Grimm die enigste meestervertellers was nie.
Ons is (destyds) slegs by uit­sondering, of toevallig, bekend ­gestel aan Russiese, Inheems-Amerikaanse, Indiese, Portugese of­ ­Chi­nese ­sprokies, en ook nie aan ons eie Afrika-sprokies nie. Daardie wanbalans is nou reggestel, want Rode het haar net wyd uit­gegooi. Boonop het sy nie net as bloemleser ­bekende sprokies ­by­een­gebring nie, sy het dié genre self betree en haar eie sprokies ­geskryf, onder ­andere in “Ver oor die berge tot by die blou see” wat gebaseer is op die ­Engelse kleuterrympie “Tom the playful Piper” en “So lyk die ­wêreld” wat ’n ver­werking van die anonieme vers “The World” is. Sommige sprokies is, binne die ­tradisie van die ­sprokie, ook in ’n Suid-Afrikaanse ­konteks oor­vertel. Hierdie pens-en-pootjies-inklim bewys Rode se oorgawe en vreugdevolle deel­name aan ­sekerlik die lekkerste van alle ­storiesoorte.
Die kort, pittige opmerkings aan die einde van die verhale oor die herkoms van die sprokies, of ’n ­spesifieke sprokie se konteks ­binne ’n groter geheel, of selfs die aangee van ekwivalente vir ’n woord soos byvoorbeeld “lewerik as klappertjie/ klapklappertjie / klapklappie” is ’n ryk ensiklo­pedie van ­kennis vir die meer ­volwasse leser.
Ek het nooit ­geweet dat die bekende Grimm-sprokie van die wolf en die sewe bokkies reeds eeue tevore in die Latynse ­Romulus-fabel- versameling voorgekom het nie. Nou weet ek. En selfs dat Vlaamse sprokies ekwivalente in die Boes- man-folk­lore het.
In geen resensie oor hierdie boek kan nagelaat word om na Rode se ­sprankelende, byderwetse en klank­­nabootsende taalvermoë te verwys nie. Hierdie stories is nie geskryf nie, dit word vertel, deur ’n meesterverteller. “Toe, ­hamba!,” sê Leeu vir Muis, Haan skrik hom ­betjoeks vir ’n Prêriewolf, en daardie fyne ou meisietjie wat ’n bloukol van ’n kleine ertjie gekry het, is ’n fyntamaryn-prinses. Lees “Die likkewaan wat fluit wou speel” om te sien hoe toeganklik en poëties ’n Afrika-verhaal vertel kán word.
Fiona Moodie se illustrasies is ewe voortreflik. Dit is nooit ­een­selwig nie, maar sensitief en slim aangepas by die styl wat met die land van oorsprong geassosieer word. Die Chinese sprokies is ­Chinees geïllustreer, die Afrika-sprokies is getrou aan Afrika.
Ek wil ’n kritiekie uitspreek, maar by voorbaat weet ek dit is ­onregverdig: Hoekom is dié yslike, dik boek so dun? Kon daar nie maar méér van als wees nie? Ek is veral jammer dat so min Skandinawiese en Russiese ­sprokies op­geneem is, wat vanweë die wye emosio­nele spektrum, die kompleksiteite en mineurtoon waar­mee dit werk, van die beste ter ­wêreld is. Maar meer van húlle sou ten koste van die ­Ghanese, Indiese, Indonesiese en Boesman-stories gewees het, en dit wil ek ook nie hê nie.
Die Bybel sluit in Spreuke 31 af met die woorde: “Daar is baie knap vrouens, maar jy oortref hulle almal. Gee haar wat haar toekom.” Ek luister graag na dié Bybelse voorskrif, vir haar voor­treflike werk met In die Nimmer-Immer-Bos ek gee haar wat sy verdien: vyf sterre.
TAFELBERG-UITGEWERS, KAAPSTAD. (HARDEBAND, 256 BLADSYE, ISBN 978-0-624-04767-4.)
Riana Scheepers is ’n skrywer en ­letterkundige van Wellington.

Onderwerpe: 

Pos 
| Vorige Pos

Herlaai Kommentaar
Lewer kommentaar
Kliek hier om in te teken en kommentaar te lewer.
[Sluit venster]

Pos 'n antwoord

Gereedskap

Help!

Gebruikersprofiel

boekredaksie25

Geslag: Send Message Stuur Boodskap
Stad: Not Selected Add to Friends Voeg vriend by
Nasionaliteit: Not Selected Block Blok gebruiker

Statistiek

Afrigator Rang

Bladlese: 54297
Kommentaar: 76
Beoordeling:
Kry statistiek oor jou blog en sien jou rang op 24.com en in die hele SA. Kliek hier om te aktiveer.

Skryf in vir die blog

Skryf in vir e-pos kennisgewings vanaf die blog

Skryf in vir RSS vanaf die blog

Nooi uit

Jy het 65 intekenaar(s)

Kentekens

(0)

Blog-rol

Onlangs Opgedateer

Boekeblok boekredaksie25 Die Oop Kaa... Murray24 Oos-KaapBurger OK Burger
antonjjansen Anton J AussieBoer Kevin D Die Burger ... René Lötter

Argief

janfebmaraprmayjun
julaugsepoctnovdec
janfebmaraprmayjun
julaugsepoctnovdec
janfebmaraprmayjun
julaugsepoctnovdec