FIRST DRAFTS – SOUTH ­AFRICAN HISTORY IN THE MAKING, deur Allister Sparks

Maan 25 Jan 2010, 09:20        0  Kommentaar     Stuur Artikel
Rapporteer Misbruik


Hermann Giliomee
Gedurende die eerste 15 jaar van ’n inklusiewe ­demo­krasie het Allister Sparks se mening oor die ANC as nuwe magsentrum waarskynlik die meeste gewig by diplomate en ­buitelandse beleggers gedra. First Drafts – South African History in the Making is ’n versameling van sy koerantartikels tussen 1999 en 2009.
Die titel kom van ’n frase van ­Philip Graham, befaamde uit­gewer van die Washington Post, wat aan joernaliste die taak oplê om die ­eerste konsep van die ­geskiedenis te skryf. Sparks vereenselwig hom ­entoesiasties met die hoë ver­wagtinge wat van Thabo Mbeki as ­president gekoester is. Die twyfel begin egter geleidelik toeneem met die president wat ál meer ­geïso­leerd raak en met die ANC wat ­volhard met sy poging om die ­wapenskandaal toe te smeer. Hy ­beskryf die opkoms van Jacob ­Zuma as ’n uitdager wie se se steun bestendig groei ten spyte van sy ­wavrag probleme met die gereg.
Teen September 2008 is Sparks ontnugter met die ANC. Hy skryf: “I hate to say this but I no longer trust the ANC.” ’n Kritikus sou die vraag kon stel: Behoort enige ­politieke joernalis wat op sy ­on­afhanklike oordeel ’n premie plaas ’n regerende party met so ’n groot meerderheid op enige ­stadium te vertrou? Hoekom het dit vir Sparks so lank geneem om met die ANC ontnugter te raak?
D.J. Opperman het van Schalk Pienaar, die legendariese redakteur van die destydse Sondag­koerant Die Beeld, geskryf hy het drie dinge besef: Die rol van klein opposisiepartye is on­benullig, ’n geja-broerdery met ’n magtige ­regeringsparty is futloos en die grootste gedeelte van die ­bevolking word nie regstreeks in die sentrale regering gehoor nie.
Sparks volg die eerste reël en ­igno­reer feitlik heeltemal die ­opposisiepartye behalwe om Tony Leon ’n onverdiende oorveeg te gee. Wat die tweede reël betref, sou dit onbillik wees om hom as ja-broer te beskryf. Hy deel egter die ANC­regering se uitgangspunt: dat apartheid ongekwalifiseerd boos, ondoeltreffend en ramp­spoedig was. Dan was daar ook die geloof dat as Mbeki se trans­formasie- planne en die ­tegno­­­kra­tiese insette van sy ­adviseurs uit­gevoer word Suid-Afrika ’n nuwe vlak van groei en voorspoed sou ­bereik.
Sparks skryf egter nie oor die groot verswakking van die staat deur die nuwe regering se ­besluit om 120 000 kundiges tussen 1996 en 2002 vroeg te laat aftree nie. Dit is ’n proses wat ­voort­gaan met trans­formasie wat selfs in die polisiediens hoër ­prioriteit as diens­lewering geniet.
Hy verwys ook selde na Suid-Afrika in vergelykende verband. Die skrywer R.W. Johnson het in sy boek South Africa’s Brave New World daarop gewys dat Suid-Afrika teen 1976 besig was om sy ­geskiedenis van slawerny en ­kolonia­­lisme af te skud en ’n ­sukses­­volle moderne staat te word. Die ekonomie was die 18de grootste ter wêreld en dit was die 15de ­grootste handelsland. Dertig jaar later het dit na 28ste en 37ste ­onder­skeidelik geval.
Die val sedert 1994 was so groot dat dit nie geïgnoreer kan word nie. Sparks verwys na die regering se Leninisme, kader-ontplooiing, en skynbaar ongeneeslike neiging om te veel dinge gelyk te probeer doen, maar hy worstel nie met die vraag of Suid-Afrika as staat besig is om te misluk nie, soos wat Helen Zille vroeër vanjaar gemaan het. Hy ­bevraagteken nie, soos John Kane-Berman die aard van swart ­sosiaal- ekonomiese bevryding nie: ’n swart elite wat deur ­regering en wit sakelui bemagtig word sonder dat hulle self veel doen, terwyl wit ­mense verplig word om as ­entre­pre­neurs te slaag.
Dan is daar die feit dat, soos in die NP-dae, die grootste gedeelte van die bevolking se stem nie ­reg­streeks in die sentrale regering ­gehoor word nie. Sparks meld dat die sakesektor nie nuwe vaste ­beleggings maak nie, maar stel nie die vraag waarom die sakelui so min vertroue in die langtermyn-groeivooruitsigte het nie.
Sparks is altyd leesbaar, mees­tal onderhoudend en soms insig­gewend. As iemand die politiek van die laaste tien jaar wil ­her­beleef, is First Drafts ’n goeie ­rekord van die hoop, verwagtinge en ontnugtering van ’n ontleder wat aanvanklik na aan die ANC was. Maar as iemand wil weet waarom daar sulke on­realistiese verwagtinge was oor die ANC se vermoë om die land ­doeltreffend te regeer, moet hy dit nie in dié boek gaan soek nie.
JONATHAN BALL, JOHANNESBURG EN KAAPSTAD. (SAGTEBAND, 397 ­BLADSYE, ISBN 978 1 86842 346 0.)
HERMANN GILIOMEE IS BUITENGEWONE ­PROFESSOR IN GESKIEDENIS AAN DIE ­UNIVERSITEIT STELLENBOSCH.

Onderwerpe: 

Pos 
| Vorige Pos

Herlaai Kommentaar
Lewer kommentaar
Kliek hier om in te teken en kommentaar te lewer.
[Sluit venster]

Pos 'n antwoord

Gereedskap

Help!

Gebruikersprofiel

boekredaksie25

Geslag: Send Message Stuur Boodskap
Stad: Not Selected Add to Friends Voeg vriend by
Nasionaliteit: Not Selected Block Blok gebruiker

Statistiek

Afrigator Rang

Bladlese: 54281
Kommentaar: 76
Beoordeling:
Kry statistiek oor jou blog en sien jou rang op 24.com en in die hele SA. Kliek hier om te aktiveer.

Skryf in vir die blog

Skryf in vir e-pos kennisgewings vanaf die blog

Skryf in vir RSS vanaf die blog

Nooi uit

Jy het 65 intekenaar(s)

Kentekens

(0)

Blog-rol

Onlangs Opgedateer

Boekeblok boekredaksie25 Die Oop Kaa... Murray24 Oos-KaapBurger OK Burger
antonjjansen Anton J AussieBoer Kevin D Die Burger ... René Lötter

Argief

janfebmaraprmayjun
julaugsepoctnovdec
janfebmaraprmayjun
julaugsepoctnovdec
janfebmaraprmayjun
julaugsepoctnovdec