DIE REËN KOM NIE ­MAKLIK NIE – STORIES VAN AGTER DIE SOUTPANSBERG, deur Ina le Roux

Maan 7 Des 2009, 10:04        0  Kommentaar     Stuur Artikel
Rapporteer Misbruik


Riana Scheepers
Daar is baie dinge wat ek wil sê oor Ina le Roux se kortverhaalbundel Die Reën Kom Nie Maklik Nie. Ek sou drie uiteenlopende ­artikels kon skryf waarin ­­di boek sentraal staan: ­Eerstens oor die wonderwerk wat soms plaasvind dat ’n verdienstelike boek wat om die een of ander rede nié inslag ­gevind het by ’n lesers­publiek nie, ’n tweede asem ­gegun word.
Toe hierdie bundel in 1996 ­uitgereik is, onder die rare titel So Lief As Wat Daardie Hoender Vir ’n Skoot Is, het bykans niemand daarvan kennis geneem nie. As gevolg van die onverstaanbare ­titel? Lowende uitsprake en ­resensies het gevolg, maar die ­lesende publiek was ­bitterlik bang vir daardie vreemde liefde tussen ’n hoender en ’n skoot. Nou verskyn die boek met ’n nuwe ­titel en twee nuwe ­ver­hale, en ­hopelik word die lesers nie dié keer af­geskrik deur ’n ­reën wat nie so maklik kom nie.
’n Tweede artikel sal wees oor nóg ’n wonderwerk. Dit wat ­gebeur wanneer iemand met ­begeesterde ywer ’n ander ­kul­tuurgroep se verhaalskat ­be­studeer en opteken. Jack Cope het dit ­onder meer gedoen met die ­Zoeloe-sprokies oor Hlankanyana in Verhale van ’n Vabond, ­Minnie Postma het die Basotho se verhale opgeteken in onder ­andere Legendes Uit Die Misrook, en natuurlik is daar die manji­fieke Bleek-Lloyd-versameling wat die laaste skimme van die ­Boesmanstories vir ons in ’n ­onmisbare dokument nagelaat het. En nou is daar ook Le Roux met haar optekening van die ­Venda se ngano, of volksverhale.
Dit is ’n praktyk met vele ­risiko’s. Wêreldwyd is daar ’n ­debat oor hoe literêr eties dit is om ’n ander bevolkingsgroep se kulturele eiendom onder jou eie naam te publiseer, én boonop roem en finansiële gewin daaruit te kry. Hierdie tema vra vir ’n groter akademiese debat, maar my (hier ongenuanseerde) ­mening is dat ’n eerbare navorser wat ­stories van die vergetelheid red, nie van paternalisme beskuldig moet word nie, maar vir sy of haar ­pionierswerk vereer moet word.
Die opwindendste wyse om na hierdie verhale te kyk, is óók ’n wonderwerk, die wonderwerk van die waaragtige storie. Om pens en pootjies in die vertellings te klim en jou oor te gee aan die sjarme en skoonheid en ­ver­skrik­king van ’n Afrika-verhaal op sy allermooiste.
Antjie Krog het onlangs die stelling gemaak dat die wit mens in Afrika nooit ware versoening sal beleef as ons nie met empatie die groter konteks van die swart mens se leefwêreld aanvaar nie.
Die verhale in die bundel maak daardie ­konteks, die leef­wêreld van die relatief on­bekende Venda in die harde, ­Verre Noorde van ons land, op ’n uitsonderlike ­manier toeganklik. Lees die ­verhaal ­“Family ­planning”, en dan ­ver­staan jy waarom ’n ordent­like Venda-vrou nie ­te­vrede is met ­sewe ­kinders nie. Al gaan hulle dood van die ellende.
Die verteller in die verhale is pastoor Piet Mavhetha van ­Folovhodwe. Hy maak nie ­letterkunde nie, hy vertel stories. Hartroerende stories, mooi ­­sto­ries, so helder soos reënwater ás dit die dag uit die hemele val.
Oor sy gemeente en bekeer­linge, sy nege kinders, sy ma, dit wat elke dag met hulle gebeur, ­reën en droogte, die swaarkry van arm mense en die vreugde van ’n ding wat goed uitgekom het, al is dit dan net ’n pastoor wat om die huis hardloop om ’n kind te ­beskerm van haar pa wat haar uit die skool wil haal omdat geleerdheid ’n meisiekind mal toor en waar sal sy dan ’n man kry?
As ’n leser hardkoppig binne ’n Westerse vertelstruktuur wil lees, gaan hy al die vreugde en waarde van hierdie uitsonder­like vertellings mis. Hierdie ­verhale is gestruktureer op die stramien van die klassieke ­Afrika-vertel- ling: outobiografies, ’n fyn ­sintuig vir waar­neming en ­menslike emosies, die intense tragiek en vreugde van menswees. Hier is nie knalslotte nie, die klimaks is dikwels die uitsonderlikheid van die dood­gewone; die blote vertel van ’n ­gebeurtenis máák dit ­belangrik.
As die leser eers die fyn ­nuanses van die Venda se humor verstaan, is daar baie rede om ­lekker te lag. Selfs op ’n begrafnis. Dit is dikwels die treurigste ­gegewens wat aanleiding gee tot die lekkerste lag, soos in “Die maand van die honger” waar ’n kind sy pa se broek kry wat ­kleiner ­gemaak moet word: ­“Agter waar hy sit, is die twee ­sakke nou langs mekaar, maar dis niks. Dis broek.”
’n Resensent van die vorige ­uitgawe van die boek het eens ­gesê die verteltrant in die ver­hale is ontwapenend naïef en dat dit juis daarom tot die essensie van die ­lewe deurdring. Dit is positief ­bedoel, maar pasop, pasop om te dink dat dit naiëwe verhale is – dit is nié. Dit is orale ­vertellings wat storie geword het, en beïndruk met ’n unieke styl en inherente ­sofistikasie.
Ek is verheug en verblyd oor hierdie bundel vonkelende ­verhale wat ’n nuwe bron van mense­kennis en insig vir ons ­oopgeboor het. Maar ek wonder tog oor een ding. Die skrywer ­erken in haar slotwoord dat dit Piet Mavhetha se woorde, sy ­stories is. Ek eer haar vir die ­noukeurige taak wat sy verrig het. Maar waarom is Piet ­Mavhetha se naam uit ­erkenning nie saam met hare op die ­voorblad nie?
HUMAN & ROUSSEAU, KAAPSTAD. (SAGTEBAND, 141 BLADSYE, ISBN 978 0 7981 5034 7.)
Riana Scheepers is skrywer, ­bloemleser en letterkundige.

Onderwerpe: 

Pos 
| Vorige Pos

Herlaai Kommentaar
Lewer kommentaar
Kliek hier om in te teken en kommentaar te lewer.
[Sluit venster]

Pos 'n antwoord

Gereedskap

Help!

Gebruikersprofiel

boekredaksie25

Geslag: Send Message Stuur Boodskap
Stad: Not Selected Add to Friends Voeg vriend by
Nasionaliteit: Not Selected Block Blok gebruiker

Statistiek

Afrigator Rang

Bladlese: 54289
Kommentaar: 76
Beoordeling:
Kry statistiek oor jou blog en sien jou rang op 24.com en in die hele SA. Kliek hier om te aktiveer.

Skryf in vir die blog

Skryf in vir e-pos kennisgewings vanaf die blog

Skryf in vir RSS vanaf die blog

Nooi uit

Jy het 65 intekenaar(s)

Kentekens

(0)

Blog-rol

Onlangs Opgedateer

Boekeblok boekredaksie25 Die Oop Kaa... Murray24 Oos-KaapBurger OK Burger
antonjjansen Anton J AussieBoer Kevin D Die Burger ... René Lötter

Argief

janfebmaraprmayjun
julaugsepoctnovdec
janfebmaraprmayjun
julaugsepoctnovdec
janfebmaraprmayjun
julaugsepoctnovdec