BLOOT MENS, deur Jelleke Wierenga
Maan 8 Mar 2010, 09:41 0 Kommentaar Stuur Artikel Rapporteer Misbruik
Zandra Bezuidenhout
en nog styf van bal en boud gegim / handel die geldbedeelde jongoumanne / koel forex-transaksies per bluetooth af / saam met opgeskerpte
iPhone-vroutjies (“Lyflike”)
Liefhebbers van sagte vlinderpoësie mag Jelleke Wierenga se debuut nogal geniepsig vind, want sy dig met die venyn van 'n steekvlieg. Tog, wanneer die spreker haar angeltjie terugvou, staan sy weerloos en naak; sy is “bloot mens” en “kaal” soos in die gedig “Kantwerk” - hoewel die uitdagende gezoem nie noodwendig bedaar nie. Danksy hierdie spel met teendele besit die bundel 'n eiesoortige trefkrag.
Deur haar voorliefde vir die taaleksperiment eis Wierenga die aandag vir haar medium op. Dit behoort tot die wesensaard van die poësie dat woorde
“vreemd” gemaak word en tog die skyn van natuurlikheid behou. Hiervoor is 'n fyn aanvoeling en dissipline nodig. Waar die digter te maklik toegee aan die verleiding van woord- en klankspel (“Ingrid drieankerswaar/ uitgespoel in wier en stink”) kom die verse effekbejag voor, en werk dit lesersweerstand in die hand. Te oordeel aan die mottogedig en ander verwysings is Wierenga 'n uitgesproke Breyten-bewonderaar. Verkeer sy dalk so in die ban van haar meester dat sy met haar vele vlerke van koers raak?
In die onderskeie bundelafdelings laat die digter haar uit oor die digkuns (“Oor die woord”), haar kwesbare en ietwat selfkoesterende identiteit (“Profiel”), die mansgeslag (“Galery van gewese geliefdes”), die eietydse leefwêreld en die landsituasie (“Gespook”). Hierdie poësie wil nie streel of paai nie en die bose Wierenga-fee noem 'n ding op sy naam - veral wanneer sy die manne voor stok kry.
Tog wonder 'n mens of fyner stekies nie 'n groter gejeuk sou afgee as die giftige vloermoere wat die spreker gooi nie. Dié aanslag word nietemin afgewissel met humor, soms behoorlik skuins ook, en lesers moet maar self oordeel of die dosis te verdra is. Dieselfde geld vir die kwistige gebruik van motto's waarin die werk van ander digters betrek word; modieus, maar maklik vertonerig.
Wierenga wend 'n dapper poging aan om die “hier” en “nou” kaal uit te trek en in haar “sterftaal” die status quo van haar “moorland” te tart. Dit is 'n herkenbare wêreld wat in algemene spreektaal geskets word en allermins tot vroue-ervarings beperk bly. Die brandpunte is vir almal ter sake, maar of die woordgebruik en vormgewing altyd slaag, is debatteerbaar, en poësiefynproewers mag die “manjifieke taalmaneuvers” (“Vlug van die miskruier”) as “gaterige gasse” ervaar.
Die digter struktureer haar vryeverse deur beeldgebruik, strofes van afwisselende lengte en opsetlike klankeggo?s. Reëlbreuke word egter nie oral met oorleg toegepas nie. Van die kort reëls is inhoudloos, terwyl ander te nadruklik en brokkig voorkom sodat die gedig sy ritmiese stuwing verloor.
Daarteenoor besit haar langer, verhalende verse ondanks die losser, informele opbou, tog 'n hegtheid en doelgerigtheid.
Wierenga sal hopelik in 'n volgende bundel die blantante segging verfyn en haar werk suiwer van steurende woordskeppings (?berommel?), die oormaat aan assonansie en alliterasie (“knieverniel op die viniel”), asook van die uitgesponne enumerasie soos in “Dislojale verset” en 'n oorbenutting van herhalingspatrone. Waarskynlik wou sy doelbewus hiperbolies skryf, maar die potensiële krag van suggestie gaan verlore.
Daar is nietemin genoeg redes om die bundel aan te skaf. Die digter is driftig op pad en haar tred is verfrissend. Met 'n bietjie teengif om die oordrewe woord-hansworstery en direktheid te demp, behoort die debutant haar digterlike mankemente te bowe te kom. Sy is 'n welkome aankomeling op die poësietoneel.
PROTEA BOEKHUIS, PRETORIA. (SAGTEBAND, 91 BLADSYE.)
Zandra Bezuidenhout is 'n digter.
Onderwerpe:
| [Sluit venster] |
Pos 'n antwoord |
|
|
Gebruikersprofiel
boekredaksie25
| Geslag: |
|
Stuur Boodskap | |
| Stad: | Not Selected | ![]() |
Voeg vriend by |
| Nasionaliteit: | Not Selected | ![]() |
Blok gebruiker |
Statistiek
Afrigator Rang
| Bladlese: | 54284 |
| Kommentaar: | 76 |
| Beoordeling: |
| Kry statistiek oor jou blog en sien jou rang op 24.com en in die hele SA. Kliek hier om te aktiveer. |
Skryf in vir die blog
Skryf in vir e-pos kennisgewings vanaf die blog
|
|
Skryf in vir RSS vanaf die blog |
Nooi uit
Jy het 65 intekenaar(s)
Kentekens
- Altesame 509 skryw...2010/09/02 10:17:33 nm
- Brieweblad: Ingrid...2010/09/01 03:30:31 nm
- EMMA EN NELLA deur...2010/08/29 08:08:07 nm
- THE WAR FOR SOUTH ...2010/08/29 08:05:56 nm
- DIE BEGUNSTIGDE de...2010/08/29 08:03:17 nm



Lewer kommentaar