AS ALMAL VER IS, saamgestel deur Danie Marais
Son 7 Feb 2010, 21:51 0 Kommentaar Stuur Artikel Rapporteer Misbruik
Etienne Britz
As Almal Ver Is bevat sowat 40 bydraes van Afrikaanssprekendes wat vertel van ervaringe in die buiteland. Van ons beste skrywers het saamgewerk en die boek lees lekker. Chris Barnard, Marita van der Vyver, Antjie Krog, Eben Venter, David Kramer en Corlia Fourie is daar. Joan Hambidge skryf oor die buitelandse aspek van haar gedigte. Daar is ook ’n groot verskeidenheid jong stemme.
Die boek demonstreer die ontploffing van jong Afrikaanse literêre talent in ons tyd, gestimuleer deur kunstefeeste, LitNet, blogs en die onstuimige emosies van die Nuwe Suid-Afrika.
Van Solet Scheeres het ek nog nooit gehoor nie, miskien omdat ek self al drie jaar in die buiteland sit. Maar sy skryf uiters subtiel oor ’n verjaardagpartytjie wat deur ’n kennis in Nederland aangebied is.
Die voorspelbare drankies, happies, gebare en geluide van die Nederlandse middelklas-gemoedelikheid word uiteindelik vir haar en haar man onuitstaanbaar. Hulle is immers aan ’n kwesbaarder, intenser, outentieker soort menslike lewe in Suid-Afrika gewoond.
Van Toast Coetzer het ek al gehoor. In sy bydrae bespeur ek die styl van die nuwe soort Afrikaanse tydskrif vir padvat-entoesiaste. Die gevatheid van die balhorige boerknaap. “Dit was net ons twee saam daai laaste dag in Seoel,” skryf Coetzer oor ’n nooi in Suid-Korea.
Erns Grundling het Kilimandjaro probeer uitklim om die muisneste uit sy kop te blaas. ’n Man kan Suid-Afrika en sy ontstellend mooi meisies aandurf met macho-grappe om te wys hoe koel jy is. Of anders kan jy dit doen met eerlikheid, sensitiwiteit en ’n goeie smaak vir musiek en mooi verse. Met laasgenoemde kom jy nie noodwendig verder nie, soos blyk uit Grundling se vermaaklike hartseerstorie, “The Lord is my Sherpa”.
Die meeste bydraes hou verband met ’n verblyf in Amerika, Groot-Brittanje, Europa, Australië of Nieu-Seeland, enkeles in ’n Asiatiese land. Daarom is dit verfrissend om te lees oor Botswana, waar Clive E. Smith “inkopies gedoen, aandetes voorgesit, naaldwerk en ander handyman-takies verrig het” vir sy werkende vrou.
Die aangehaalde sin gee ’n aanduiding van die eienaardigheid dat die meeste swart of bruin skrywers in hierdie bundel ’n meer volwasse mentaliteit aan die dag lê as heelwat van die jong wittes, wat soms byna uitsluitlik oor hul eie gevoelens en neuroses in die buiteland skryf. Ek-in-die-buiteland. Ek met my vervreemding en eensaamheid, my ylhoofdige drome, my verbasing of geamuseerdheid by die aanskoue van eksotiese dinge. Egosentrisme hoef natuurlik nie swak skryfwerk in die hand te werk nie. En die buiteland is inderdaad soms disoriënterend of snaaks wanneer dit deur die oë van boer se kind gesien word.
Solank hierdie soort perspektief nie tot ’n skryfontsporing lei nie. Die leser moenie oordadig op buitelandse wetenswaardighede getrakteer word nie. Die skrywer moenie te duidelik in sy skik wees met sy eie humorsin as waarnemer nie. ’n Romantiserende gedweep met buitelandse verskynsels kan ook irriteer. Onder die baie “ek-in-die-buiteland”-verhale het ek miskien die heel meeste van Yvonne Beyers se wonderlike “Poppie kry ’n gevoel in haar wat sy nie ken nie” gehou.
Watter ruim register het Afrikaans as literêre taal nie deesdae nie.
’n Leser mag miskien nie hou van Hunter Kennedy se plat punk-Afrikaans in sy dagboekagtige “’n Fokof Londen-toer” nie. Maar vir so ’n neus-in-die-lug bied die bundel baie alternatiewe, byvoorbeeld die pragtige opstel “Verwoede, verwese onafhanklikheid” van Cecile Cilliers. Sy skryf in die beste tradisie van verfynde vroue-skrywers in Afrikaans oor haar man se dood en haar kinders in die buiteland.
Vreemd genoeg is dit veral die swart skrywers soos Sindiwe Magona of oud-vryheidstryders soos Leslie Stelfox wat met ontsteltenis skryf oor die gevaarlike land wat Suid-Afrika geword het. Korrupsie selfs in die regstelsel. ’n Onveilige land vir huisgesinne en kinders.
Die meeste wit bydraers probeer eerder verstaan wat hulle aan Suid-Afrika bind. Slegs in Suid- Afrika kan jy werklik tot jou reg kom en betekenis as persoon aanneem. Die landskappe van Suid-Afrika sal jy ’n lewe lank mis. Om ’n Suid-Afrikaner te wees, is iets heel spesiaals, moet dit nooit vergeet nie, voeg Achmat Dangor daaraan toe.
Met sy passievolle opstelle, stripverhale, sketse, gedigte en ryk diversiteit van kreatiewe uitinge is As Almal Ver Is ’n boek tipies Afrikaans en tipies van Suid-Afrika. Nie ’n boek wat jou werklik lok na die buiteland nie.?
TAFELBERG-UITGEWERS, KAAPSTAD. (SAGTEBAND, 288 BLADSYE, ISBN 978-0-624-04801-5.)
Etienne Britz is ’n dosent in Nederlands aan die Sjanghai-Universiteit vir Internasionale Studie.
Onderwerpe:
| [Sluit venster] |
Pos 'n antwoord |
|
|
Gebruikersprofiel
boekredaksie25
| Geslag: |
|
Stuur Boodskap | |
| Stad: | Not Selected | ![]() |
Voeg vriend by |
| Nasionaliteit: | Not Selected | ![]() |
Blok gebruiker |
Statistiek
Afrigator Rang
| Bladlese: | 54278 |
| Kommentaar: | 76 |
| Beoordeling: |
| Kry statistiek oor jou blog en sien jou rang op 24.com en in die hele SA. Kliek hier om te aktiveer. |
Skryf in vir die blog
Skryf in vir e-pos kennisgewings vanaf die blog
|
|
Skryf in vir RSS vanaf die blog |
Nooi uit
Jy het 65 intekenaar(s)
Kentekens
- Altesame 509 skryw...2010/09/02 10:17:33 nm
- Brieweblad: Ingrid...2010/09/01 03:30:31 nm
- EMMA EN NELLA deur...2010/08/29 08:08:07 nm
- THE WAR FOR SOUTH ...2010/08/29 08:05:56 nm
- DIE BEGUNSTIGDE de...2010/08/29 08:03:17 nm



Lewer kommentaar