AFRIKANERS IN ANGOLA 1928-1975, deur Nicol Stassen
Maan 15 Mar 2010, 09:46 0 Kommentaar Stuur Artikel Rapporteer Misbruik
André Wessels
Nicol Stassen is welbekend as die besturende direkteur van Protea Boekhuis?– ’n uitgewery wat die afgelope sowat 12 jaar ’n groot aantal betekenisvolle boeke uitgereik het, insluitende talle Afrikaanse publikasies. In 2009 het Stassen ’n doktorsgraad in geskiedenis verwerf oor die Afrikaners wat dekades lank in Angola gebly het. Hierdie studie is nou as Afrikaners in Angola 1928-1975 gepubliseer .
In hierdie omvangryke publikasie word ’n oorsig gegee van die geskiedenis van die Dorslandtrekkers wat hulle, ná jare se swerftogte, in die 1880’s in Angola gevestig het. Angola as land word ook ontleed en word onder meer die rol van die omgewing, die Portugese besetting en kolonialisering van Angola, die bevolkingsamestelling van die land en die ekonomie bekyk.
In 1928 is ongeveer 2?000 Angola-Boere na die destydse Suidwes-Afrika (vandag Namibië) gerepatrieer. Ongeveer 400 het in Angola agtergebly, waar die meeste in verwaarloosde omstandighede gewoon en ’n bestaan uit gemengde boerdery, transportry en jag probeer maak het.
Stassen verskaf redes waarom sommige Afrikaners verkies het om in Angola te bly?– net om grootliks aan die vergetelheid oorgelaat te word. Hy ontleed hul ekonomiese omstandighede en bespreek hul materiële kultuur (byvoorbeeld behuising, kleredrag, vervoermiddele en voedsel) sowel as hul geestelike kultuur (byvoorbeeld hul taal, leesstof, sosiale byeenkomste, boererate en bygelowe). Hoofstukke word ook aan talle ander temas van belang gewy, byvoorbeeld onderwys, godsdienstige lewe, verhoudinge met ander gemeenskappe en maatskaplike toestande. Wat laasgenoemde betref, word daar in die besonder gefokus op ondertrouery, saamwonery, “verportugesing”, buite-egtelike kinders, seksuele verbintenisse oor die “kleurskeidslyn” heen, en misdaad onder die Angola-Boere. Tereg is hierdie mense met verloop van tyd as “lewende fossiele” en slagoffers van hul eie sogenaamde behoudendheid bestempel.
Teen 1958 het die Angola-Boere tot ongeveer 600 siele aangegroei, maar van dié jaar tot 1963 is die meeste na Suidwes-Afrika of Suid-Afrika gerepatrieer. Slegs ’n klein groep Afrikaners het in Angola agtergebly. Stassen bespreek die redes waarom hulle verkies het om te bly, die enkele nuwe intrekkers, hul onderwys, ekonomiese omstandighede en kerklike bearbeiding, en die wyse waarop die Angolese bevrydingstryd (1961-1975) hulle geraak het.
Al voordat Angola op 11 November 1975 onafhanklik geword het, was ’n stryd tussen die bevrydingsbewegings aan die gang, wat met verloop van tyd tot ’n burgeroorlog en SA militêre betrokkenheid sou lei. Die laaste Angola-Boere het die land verlaat en só het byna ’n eeu se verbintenis tussen Afrikaner-setlaars en Angola tot ’n einde gekom. Dié mense se interessante, kleurryke lewe word treffend beskryf en ontleed.
Die boek se omvangryke bronnelys bevat ’n verbysterende verskeidenheid bronne (’n groot aantal Portugese bronne word byvoorbeeld benut) en getuig van die uitstekende primêre (argivale) en sekondêre navorsing wat Stassen gedoen het. Sy indringende navorsing word verder bewys deur die insluiting van nie minder nie as 2 883 eindnote. Verder bevat dit ses kaarte (kleur), sewe tabelle en 88 unieke en treffende foto’s. Melding moet ook gemaak word van vyf besonder waardevolle bylaes, wat onder meer lyste bevat van die Afrikaners wat in 1928 in Angola agtergebly het, asook van dié wat teen ongeveer 1958 nog in Angola gewoon het. ’n Nuttige en besonder volledige register maak dit maklik vir die navorser en belangstellende leser om die magdom inligting in die boek te ontsluit.
Dit is ’n hoogs leesbare en geweldig interessante boek, wat ’n waardige toevoeging tot die Afrikaner-historiografie is. Dit is ’n stuk aangrypende sosiale geskiedenis, maar tegelyk ook ’n kultuurhistoriese studie. Die kaleidoskopiese aard van kultuurgeskiedenis word beklemtoon deur die feit dat talle aspekte van die lewe en werk van die Afrikaners in Angola aan die orde gestel en ontleed word. Die Nederlandse historikus Pieter Geyl het geskiedenis tereg as ’n “nimmereindigende diskussie” bestempel, maar dit sal moeilik wees om Stassen se omvangryke studie te oortref of met veel (indien enige) nuwe insigte oor dié onderwerp vorendag te kom. Die boek word met groot vrymoedigheid aanbeveel by enigiemand wat in geskiedenis belang stel.
PROTEA BOEKHUIS, PRETORIA. (HARDEBAND, 666 BLADSYE PLUS 48 BLADSYE ILLUSTRASIES EN ’N UITVOUKAART.)
André Wessels is ’n professor verbonde aan die geskiedenisdepartement van die UV.
Onderwerpe:
| [Sluit venster] |
Pos 'n antwoord |
|
|
Gebruikersprofiel
boekredaksie25
| Geslag: |
|
Stuur Boodskap | |
| Stad: | Not Selected | ![]() |
Voeg vriend by |
| Nasionaliteit: | Not Selected | ![]() |
Blok gebruiker |
Statistiek
Afrigator Rang
| Bladlese: | 54288 |
| Kommentaar: | 76 |
| Beoordeling: |
| Kry statistiek oor jou blog en sien jou rang op 24.com en in die hele SA. Kliek hier om te aktiveer. |
Skryf in vir die blog
Skryf in vir e-pos kennisgewings vanaf die blog
|
|
Skryf in vir RSS vanaf die blog |
Nooi uit
Jy het 65 intekenaar(s)
Kentekens
- Altesame 509 skryw...2010/09/02 10:17:33 nm
- Brieweblad: Ingrid...2010/09/01 03:30:31 nm
- EMMA EN NELLA deur...2010/08/29 08:08:07 nm
- THE WAR FOR SOUTH ...2010/08/29 08:05:56 nm
- DIE BEGUNSTIGDE de...2010/08/29 08:03:17 nm



Lewer kommentaar