50 STEMME - DIE GROOTSTE NAME IN AFRIKAANSE MUSIEK deur Ilza Roggeband
Maan 23 Nov 2009, 09:34 0 Kommentaar Stuur Artikel Rapporteer MisbruikErns Grundling
Jy kan vir lank kopkrap oor die meriete van sokkie-dans, troebadoer-folk, tranetrekker-ballades of gatskop-rock . . . maar oor een ding kan niemand stry nie: Afrikaanse musiek is gewíld.
Dit het die afgelope dekade ontwikkel tot ’n multimiljoenrand- bedryf: kyk maar na die topverkopers in Musica, die tienduisende mense wat jaarlike opruk na Skouspel in Sun City, die kykertalle vir Kurt se Jukebox op kykNET, die oorheersende klankbaan op bykans elke fees reg oor die land . . .
Juis daarom is die tyd reg vir só ’n boek: ’n behoorlike bestekopname van vyftig invloedryke en besonder uiteenlopende rolspelers in Afrikaanse musiek – van die Briels en Groep Twee tot Brasse vannie Kaap en Fokofpolisiekar.
Ilza Roggeband is ’n bekende musiekskrywer met jarelange ervaring en vele voelers in die Afrikaanse musiekbedryf – dus die aangewese persoon vir só ’n ambisieuse projek.
Dit moes klippe kou geverg het om tot die finale lys te besluit. Sy gee self toe in die inleiding dat dit “nie noodwendig iemand anders se lys van 50 sal wees nie”. (Ek sou graag vir Johan Stemmet en Battery 9 se Paul Riekert in dié uitgelese geselskap wou sien . . .)
Roggeband slaag daarin om met haar keuse ’n uitstekende balans tussen die baanbrekers van ouds, bobaas-liedjieskrywers en hedendaagse kommersiële supersterre te vind. Jy sal nêrens anders dieselfde name in één publikasie aantref nie. ’n Mens kan maar net wonder hoe dié 50 stemme saam op ’n paar koorbankies sou klink. Maar elkeen het op sy of haar eie manier iets wesenlik bygedra tot die sukses, groei en heerlike verskeidenheid van Afrikaanse musiek.
Waar die aanvanklike plan was om ’n slapbandboek van sowat 160 bladsye uit te gee, het die projek gou gegroei tot ’n propperse hardeband koffietafelboek met 256 bladsye. Só kon sy ten minste vier bladsye – en dikwels meer – aan elk van die 50 profiele bestee.
Roggeband het met 42 van die 43 kunstenaars wat vandag nog met ons is onderhoude gevoer (slegs Gert Vlok Nel staan nie onderhoude toe nie). Die ander sewe – wat Johannes Kerkorrel, Koos du Plessis en Gé Korsten insluit – het reeds die tydelike met die ewige verwissel.
Die gedetailleerde profiele lees lekker en word toegelig met interessante staaltjies: As jy wil weet waar Chris Chameleon se “krrt-pik-pikke-pikkek”-geluid vandaan kom, waarom Kurt Darren sy hare blou wou kleur, wat “Ou Ryperd” en ABBA gemeen het, sal jy dit hier vind. Behalwe vir enkele feitefoute, wat hopelik met ’n volgende uitgawe reggestel sal word, is die teks skoon en baie volledig nagevors.
Die meeste foto’s kom uit die Huisgenoot-argief en hier is ’n paar onvergeetlikes, soos ’n puik portretfoto van Tant Sannie Briel. Dit is wel jammer dat ’n paar publisiteitsfoto’s van platemaatskappye nie soortgelyke trefkrag het nie.
Roggeband het in die meeste gevalle die alewige skinder en omstredenheid wat Afrikaanse sangers kenmerk, probeer vermy. Só is daar in Steve Hofmeyr se lywige profiel van nege bladsye nie ’n enkele verwysing na sy veelbewoë liefdeslewe nie. Maar Bles Bridges gaan dalk by haar kom spook oor die insluiting van ’n brokkie oor sy minnares, Marietjie! Alles in ag genome, is dit ’n genotvolle tydsdokument wat die relatief kort geskiedenis van Afrikaanse musiek se uitskieters op ’n toeganklike manier boekstaaf.
As jy van Afrikaanse musiek hou, sal die boek op jou boekrak tuishoort. Ek kan sien hoe aanhangers met dié boek onder die arm in die toekoms by handtekeningsessies opdaag. Die tyd (én verkope, natuurlik) sal leer of 50 Stemme uiteindelik ’n klassieke werk, ’n tipe Afrikaanse musiek-ekwivalent van Kook en Geniet, gaan word.
JONATHAN BALL, KAAPSTAD. (HARDEBAND, 265 BLADSYE, ISBN 9780908387908.)
ERNS GRUNDLING IS ’N JOERNALIS BY WEG.
Onderwerpe:
| [Sluit venster] |
Pos 'n antwoord |
|
|
Gebruikersprofiel
boekredaksie25
| Geslag: |
|
Stuur Boodskap | |
| Stad: | Not Selected | ![]() |
Voeg vriend by |
| Nasionaliteit: | Not Selected | ![]() |
Blok gebruiker |
Statistiek
Afrigator Rang
| Bladlese: | 54296 |
| Kommentaar: | 76 |
| Beoordeling: |
| Kry statistiek oor jou blog en sien jou rang op 24.com en in die hele SA. Kliek hier om te aktiveer. |
Skryf in vir die blog
Skryf in vir e-pos kennisgewings vanaf die blog
|
|
Skryf in vir RSS vanaf die blog |
Nooi uit
Jy het 65 intekenaar(s)
Kentekens
- Altesame 509 skryw...2010/09/02 10:17:33 nm
- Brieweblad: Ingrid...2010/09/01 03:30:31 nm
- EMMA EN NELLA deur...2010/08/29 08:08:07 nm
- THE WAR FOR SOUTH ...2010/08/29 08:05:56 nm
- DIE BEGUNSTIGDE de...2010/08/29 08:03:17 nm



Lewer kommentaar